Mnr Danie Venter … vyftig jaar later
Mnr Danie Venter en Hoërskool Suid-Natal is sinoniem met mekaar.
Ons het mnr Venter die afgelope jare as ons eie “minister” van Finansies leer ken.
Maar in werklikheid begin sy kleurryke loopbaan reeds ver terug in 1969 toe hy as jong onderwyser by die tóé Southern Natal Commercial High School elders in Port Shepstone begin skoolhou het.
In 1982 word mnr Venter as Adjunkhoof na Hoërskool Richardsbaai bevorder. ‘n Klompie goeie, gelukkige jare volg daar saam met sy twee opgroeiende seuns, Albie en Estienne.
In 1989 kom mnr Venter terug na Hoërskool Suid Natal, dié keer as Adjunkhoof. Ons het hom leer ken as perfeksionis, uiters toegewyd … en leerders moes ligloop vir hierdie streng jong man.
Na 4 jaar, was dit weer tyd om sy vlerke te sprei en word mnr Venter as Skoolhoof by King Edward High School op Matatiele aangestel. Die multi-kulturele skoolomgewing van gr 1 tot 12, het groot uitdagings geverg. Ses jaar gaan verby, maar intussen het die seemeeue bly roep. In 1998 tree mnr Venter uit sy pos en keer hy terug na Port Shepstone.
Met sy briljante vaardighede nog vars in die geheue, word mnr Venter ‘n Rekeningkunde pos by Suid-Natal aangebied. Na ‘n paar jaar word die skoolhouery verruil vir die pos as Finansiële Bestuurder.
Mnr Venter is die enigste opvoeder wat Hoërskool Suid-Natal oor ‘n tydsbestek van bykans 50 jaar geken en gedien het. Woorde skiet te kort om namens die instelling, Hoërskool Suid-Natal, ons diepe waardering en dank uit te spreek.
Mnr Venter, óns sal nié vergeet nie … maar ú, ook nie.
PHOTO: Danie Venter